Omtrent Buffelsdoorn Safari’s

MonkeyBuffelsdoorn Safari’s is geleë op ‘n familieplaas in Limpopo, op die grens van Botswana en die Noordwes Provinsie. Die plaas is in die hartjie van die Bosveld, waar dae nog rustig verloop, en ruimte, tyd en kalmte aan die orde van die dag is.

Sonsondergange en sterrekyk is deel van die dag se verloop! Die plaas val in die Savanna-bioom van Suid-Afrika en dit beslaan ‘n gebied van 1 800 ha. Die naaste dorpe aan die plaas is Thabazimbi (125km) en Rustenburg (160km).

Gabarone, in Botswana, is 80km vanaf die plaas. Dwaalboom is egter ‘n boerenedersetting (47km) waar ‘n plaaslike koöperasie en ‘n paar winkels, slaghuise, ‘n laerskool en kerke beskikbaar is. GPS lesings van die plaas: S 24º 34’ 0513 en E O 26º 33′ 2876.

Dit val in die somerreënvalstreek en word gekenmerk deur uiters warm somers en koel tot koue winters. Die Botswanagrens self is, soos die kraai vlieg, 4 km vanaf die jagkamp. Die grens word gevorm deur die Maricorivier. Derdepoort-grenspos is die naaste grenspos om Botswana binne te gaan. Dis ook hier waar die hoofhek vir toegang tot die Madikwe Privaat-Natuurreservaat geleë is.

Die park beslaan tans 75 000 ha en is die tuiste van die Groot Vyf en al die ander wilde Afrikadiere wat natuurlik hier voorkom en aard. Toegang tot die park met privaat voertuie word nie toegelaat nie.

Buffelsdoorn is ‘n familieplaas en in die Van Aarde-familie se besit vir die afgelope 90 jaar. Beesboerdery het hoofsaaklik die hoofinkomste gegenereer waar saaiboerdery op droë landerye ‘n verdere inkomste was. Die plaas is tans hoofsaaklik ‘n gemengde boerdery met beeste as hoof-inkomste, asook kleinvee en wild; die boerdery bied ‘n bestaan aan 3 gesinne en sowat 10 werkers met hul gesinne.

Die plaas word slegs gebruik as boogjag-fasiliteit, en veral in die kamp wat heeltemal met wildwerende heining toegespan is. Hierdie kamp beslaan 400 ha en verskeie spesies en trofeediere word hier geteel en gejag. Die ander gedeeltes is buite-om toegespan, maar is oop teen die openbare paaie. Hierdie paaie deel die plaas in 3 dele.  ‘n Verdere deel is verlede jaar (2014) toegespan waar daar met koedoes geteel word.

Vir boogjag is spesies beskikbaar soos op die boogjag-pryslys aangedui. Daar is verskeie skuilings by watergate en ook “treestands” wat gebruik kan word. As die jagter sy/haar ware kleure wil wys, kan hy/sy hul vernuf toets deur te “walk and stalk”.

Deur ‘n streng bestuursplan te volg, word verseker dat wild nie gevoer word nie en die diere en voëls op natuurlike weiding alleen oorleef en floreer. Jag word streng op volhoubare benutting-basis en streng volgens wetgewing-vereistes toegepas. Die bestuur bepaal wanneer en waar daar gejag mag word.

Ingesluit by u jagfooie is:

  • Verblyf in ‘n selfsorg-eenheid met warm water en elektrisiteit, beddegoed en kombuisware
  • Lapa met braaigeriewe, -toerusting en hout.
  • Slag van u wild; kuip van trofeë – verwys na die pryslys.
  • Koelgeriewe vir karkasse.
  • Gidse wat help met spoorsny.
  • Handradio vir kontak met bestuur.
  • Op- en aflaai van alle jagters in die veld.
  • ‘n Skoonmaker tweemaal per dag vir skottelgoed was en lapa skoonmaak.
  • Rus en vrede in die natuur.
Pryslys en Besprekingsvorm

Daar is ‘n winkel op die plaas om in die basiese behoeftes van die boere en werkers van die omgewing te voorsien. Die winkel is deur die familie begin en is steeds ‘n familiebesigheid.

Die water op die plaas is veilig vir drink en huishoudelike gebruik.

Ons maak gebruik van twee skaaphonde, Blackey en Bullet om spoor te sny en gekweste diere op te spoor. Die spoorsny honde is ‘n diens wat ons vir u gerief daarstel. Dit kan u baie tyd en geld bespaar!

Ons verseker u dat hierdie honde baie goed opgelei is en ‘n groot sukses-ratio handhaaf!

Ons maak met leedwese bekend aan ons ou jagters, dat Whitey in 2013 oorlede is.  Ons verseker u egter dat ons steeds ons bes doen om spoor te sny met die hulp van Blackey en Bullet en dat die sukses van u jag steeds ons hoogste preoriteit bly.  Bullet is nog onder opleiding, maar toon geweldige potensiaal!